Kan jy glo: ver oor die 12 miljoen kosmetiese operasies word jaarliks in die VSA uitgevoer teen meer as 20 biljoen dollar. Teen $15,000 kan mans (en vroue) ook ’n paar kits-spiere vir hulself laat inplant. Wat ’n vreemde wêreld! Miskien gebeur hierdie dinge omdat mense dit steeds nie regkry om net hulself te wees en in vrede met hulleself te leef nie.
Te veel mense hou nie van daardie persoon wat elke dag in die spieël vir hulleself terugkyk nie. Of hulle is te vet, te maer, te lelik gebou, te plooierig... of sommer net nie goed genoeg nie. Op die ou end lê die oplossing egter nie in snymesse of spier-inplantings nie. Nee, dit lê in onsself. As ons nie vrede verklaar met God én met onsself nie, dan kan niks ons blywende vrede bied nie. Vrede begin altyd diep binne in ons. Dit begin met daardie hemelse rus wat God in ons harte uitgiet wat alle verstand (en misverstand!) te bowe gaan. Rustige harte, daardie tipe wat Paulus in Filippense 4 beskryf, is ons blywende hemelse geskenk wanneer Christus se ligte las op ons eie skouers ’n rusplek kry. Iemand sê nou die dag daar is een woord wat vassteek in sy woordeskat — die woordjie “spyt.” Hy is spyt oor al die kanse in sy lewe wat hy die afgelope jaar deur sy vingers laat val het. Nou ja, soos die spreekwoord sê, spyt kom altyd te laat. Niemand is ooit voor die tyd spyt nie. Dit gebeur elke keer eers na die tyd. Hoe kry jy die woordjie spyt uit jou woordeskat? Wel, deur te sorg dat die tyd nie met jou mors nie. Tyd is ’n wrede baas. Dit verslind elke liewe kans wat jy nie aangryp nie. Jy kan dit nooit weer terugkry nie. Maak daarom seker dat jy Paulus se woorde in Efesiërs 5:16 betyds opraap voordat die jaar verby is. Paulus skryf daar dat jy die tyd moet uitkoop. O ja, dis lewensbelangrik dat jy dit voor die tyd doen. En voor 2014 aanbreek. Moenie wag vir 2014 se nuwejaarswense nie. Maak ’n doelbewuste keuse hier en nou om elke geleentheid wat God oor jou pad stuur met beide hande aan te gryp. Kies om nie een enkele dag te laat verbygaan sonder dat jy in Jesus se Naam ’n stukkie konkrete liefde aan iemand anders bewys het nie. O ja, en vir ingeval jy nie weet hoe dit prakties lyk nie, gaan lees dan Levitikus 19 en Romeine 12 wat wemel van praktiese voorbeelde oor hoe om in woord en daad vir ander mense om te gee. Kies vooruit om elke dag wat nog oor is in 2013 en elke dag wat op jou wag in 2014 vir die Here te leef. Kies vooruit om goed te doen. Dan verdwyn “spyt” al hoe meer uit jou woordeskat. Dan word dit ingeruil vir ’n gunsteling nuwe woord — “dankie” — in God se teenwoordigheid. The best way to predict the future is to invent it,” skryf Alan Kay. Ons weet nie hoe lyk ons eie toekoms nie. Soos wat die Prediker sê weet nie een van ons wat om die draai op ons wag nie. Maar ons weet wel hoe God se toekoms daar uitsien. Ons hoor byvoorbeeld in Matteus 25:31-46 dat Jesus op die laaste dag van die wêreldgeskiedenis vir elke mens op aarde gaan vra hoe ons Sy vriende behandel het wat blind, naak, arm, vreemdelinge en tronkvoëls was. Hierdie vraag wag definitief in die toekoms op ons elkeen.
Nou ja, as ek self weet wat in die Here se toekoms op my wag, dan moet ek my eie toekoms herbedink en herskep. Dan moet my prioriteite van nou af anders lyk. Spreuke 19:17 leer my hoe. Hierdie teks sê: “Wie hom oor ‘n arme ontferm, maak ‘n belegging by God.” Al kan ek nie alles vir almal wees nie, kan ek van nou af vir een mens op ‘n slag omgee in Jesus se Naam. Elke dag kan ek minstens een persoon se lewe vul met gewone brood en lewende brood. Ek onthou daarom altyd Moeder Teresa se woorde as ek met ander mense, en veral met minderbevoorregtes, paaie kruis: “Each one of them is Jesus in disguise.” Vrede Hou op om gif namens ander te drink Party motoriste jaag deesdae soos maniakke op die snelweë. Ander probeer weer soos ‘n wafferse “Mad Max” kyk oor hoeveel stopstrate hulle op ‘n dag kan jaag. Blykbaar dink hulle dat hulle in die Britse Geheime diens werk waar elke 007 “a licence to kill” het, of so iets. Waag jy dit om vir sulke bestuurders toeter te blaas, dan praat hulle lelike vingertaal met jou. Of hulle swaai gebalde vuiste in jou rigting.
Te veel mense is propvol woede. Almal is vir almal kwaad. Almal voel verontreg, ingedoen of verkul. Niemand word genoeg betaal of waardeer nie. Almal is verkeerd — vanaf die kerk tot die werk. Die dilemma is dat woede net mooi niks hieraan verander nie. Woede is wanneer ander droogmaak en jy drink die gif namens hulle. God sê dat straf Hom alleen toekom, nie ons nie. Net Hy het al die regte feite tot sy beskikking, nie jy of ek nie. Los gerus maar daardie jaag-brigades uit. Moenie jouself gedurig opwerk oor al wat ‘n wetsoortreder is nie. Of oor elke korrupte waarvan jy hoor of lees nie. Doen jy net wat reg is voor God. Woon en werk rustig voort soos wat Psalm 37 sê. Toekoms “Elke heilige het ‘n verlede en elke sondaar ‘n toekoms,” skryf iemand. Ongetwyfeld het ons elkeen ‘n paar skadukolle in ons verlede. Daar’s selfs ‘n geraamte of twee in ‘n paar hangkaste weggepak wat party van ons liefs maar daar wil laat. Hopelik is sulke dinge gister se ou nuus. Hopelik leef nie een van ons twee verskillende lewens in een en dieselfde asem nie. Waarskynlik bedryf ons nooit twee stelle waardes, een vir die kerk en een vir die werk nie. So ‘n leefstyl is pleinweg skynheilig. Dit is in enige van ons 11 landstale oneg. Wanneer jy een mens tussen ander mense is en iemand heeltemal anders as jy alleen is, dan flikker daar gevaarligte. Nee, dan leef jy reeds in die gevaarsone. Dan loop jy op ‘n glibberige pad.
Wat ‘n skok vir ander as hulle die dag moet uitvind jy’s toe nie “the real deal” nie. Nog erger: dit grief God wat hierdie dinge van die begin af weet. ‘n Lewe van integriteit voor Hom gaan daaroor dat jy eg leef voor Christus en ander. Dit is om daardie unieke mens te wees wat God jou bedoel het om te wees toe jy na afloop van ‘n hemelse beplanningsessie die lewenslig gesien het. Daarom dat jy nie jou foute, sondes en tekortkominge mag vertroetel nie. Vat dit na Christus toe. Soos wat 1 Johannes 2 sê, is Hy die enigste versoening daarvoor. Los dit ook net daar by Hom. Moenie jou foute herhaal of nogmaals inoefen nie. Begin elke dag oor en nuut saam met die Here. Dan het jy ‘n gewaarborgde hede en toekoms. Amper 500 jaar gelede het een man die wêreld andersom laat draai met 95 stellings wat teen Wittenberg se kerkdeur vasgetimmer is. Dit was op 31 Oktober 1517 toe Maarten Luther dit nie meer kon vat dat die kerk Christus aanhoudend vir tweedehandse bygeloof verruil nie.
Luther se reformasie het miljoene uit die hande van ’n magsbehepte godsdienstige struktuur losgeskeur. Boonop het hy die Bybel weer in die hande van gewone mense teruggeplaas. G’n wonder nie dat Luther in 1999 aangewys is as die derde mees invloedryke persoon van die vorige millennium. Luther was nie ’n studeerkamerteoloog nie. Ook nie iemand wat die wêreld deur vergaderings, beplanningsaksies of konsensus-politiek wou verander nie. Daarvoor was sy liefde vir die Here te groot. Luther was ’n profeet. En profete wen nie aldag gewildheidskompetisies nie. Hulle is nie aldag die godsdienstige smaak van die week nie omdat hulle nooit middelgrond soek of almal wil tevrede stel nie. Na jare se worsteling met die Bybel het Maarten Luther ontdek God se genade het net een naam en adres — Jesus Christus! Jesus se dood en opstanding is onverdunde Goddelike liefde in aksie. Genade is om die Here op sy allerbeste en allernaaste te ervaar! Luther het gesnap God se genade is ’n hemelse werkwoord. Genade kos Hom ’n kruis. Maar genade is ook ’n menslike ruswoord. Anders gesê, God doen genade en mense ontvang dit gratis, onverdiend, verniet! Boonop ontvang die verkeerde mense genade, diegene wat niks het om dit by God mee te koop, of deur ’n goeie lewe te verdien nie. Genade is net bedoel vir God se verlore eiendom, nie vir vromes nie. Genade is God se nuwe Genesis. Dis sy van-voor-af oorbegin met elkeen wat ’n slegte Eksodus beleef het. Genade — soos wat Philip Yancey dit onlangs eietyds beskryf, is om te besef niks wat ek gedoen het, tans doen, of nog in die toekoms gaan doen, kan maak dat God meer of minder van my hou nie. Hy het my in elk geval lief! Vier preke wat kan... en dit het toe ook! Haggai is moontlik die suksesvolste profeet in die Ou Testament. Net vier preke uit sy mond was nodig tussen 29 Augustus en 18 Desember in die jaar 520 voor Christus om ‘n ganse volk se prioriteite én hulle toekoms te verander. Die uitdaging wat Haggai in vier besielende boodskappe voor hulle geplaas het was om die tempel van God te herbou, wat in puin was na die Babiloniese ballingskap. Drie weke na sy eerste preek het hulle begin met die bouwerk. God se Gees het hulle besiel.
Vervolgens moes hulle in Haggai se tweede preek op 17 Oktober hoor dat God Self die eer en glorie aan die herboude tempel sou verskaf. Hulle moes maar net hulle kant bring. Die belangrikste les wat Israel in hierdie tyd moes leer — veral in preek 3 en 4 op 18 Desember — is dat as hulle inval by God se belange, dan sal Hy op sy eie maniere die hemele oopmaak bokant hulle koppe. Wanneer mense die Here eerste stel, gebeur sy genade altyd in oorvloed in hulle lewens. God het nie ‘n leeftyd se preke nodig om die wêreld te verander nie. Hy doen wat net Hy kan doen met die minimum menslike insette — vandag nog. Groete Stephan Joubert Daar’s ‘n groot verskil tussen kennis en wysheid. Iemand sê nou die dag vir my dat kennis is om te weet ‘n tamatie is eintlik ‘n vrug, maar wysheid is om te weet jy gebruik nie tamaties in vrugteslaai nie. Kennis is om baie informasie in jou kop te kan stoor. Wysheid is om te weet hoe om daardie kennis tot eer van die Here en tot voordeel van ander aan te wend. Kennis is om te weet wat is reg. Wysheid is om dit elke dag te doen. Kennis is om die regte geloofsbelydenisse te ken. Wysheid is om dit aanhoudend in die regte dade en verhoudings om te skakel.
Kennis wat die soeklig op jouself laat val, maak jou oorvol van jouself. Dit verander jou spoedig in ‘n dwaas, soos wat Spreuke sê. Wysheid wat ander mense eerste stel en hulle geloof opbou met jou eie bietjie kennis, maak die Here se hart bly. Sy soort wysheid verander jou woorde vanaf messteke na medisyne. Ook verander dit jou van ‘n suinige mens wat jou besittings benoud vasknyp en jou sente oor en oor omdraai, na iemand wat vrygewig leef. Bo alles laat dit jou met groot respek vir God leef. Dalk ken jy die uitdrukking dat jy die paar seerkry dinge wat vriende soms aan jou doen in sand moet skryf, maar dat jy al die goeie dinge wat hulle vir jou doen op klip moet graveer. Wyse woorde. Wind waai sand maklik deurmekaar, maar dit kan niks met groot klippe regkry nie. Oppas dat jy nie dinge wat mense naby aan jou soms aan jou doen teen hulle hou en hulle dan in dié proses verloor nie. Kies om in 2013 die minste te wees. Doen wat die Bybel sê: Vergeef. Stap eerste terug. Steek van jou kant af ’n hand van vergifnis uit. Begin eerste oor. Want as jy jou vriende verloor, dan het jy te veel verloor. Sulke skade is onberekenbaar. Moenie dat dit in 2013 gebeur nie. ’n Goeie vriend is meer werd as goud. Elke vriend is ’n gawe van die Here om jou lewe ryker en voller te maak. Moenie jou vriende verwaarloos nie. Bid gereeld vir hulle. Kuier saam met hulle. Laat hulle besef hulle is spesiaal en baie kosbaar in jou lewe. Beskerm hulle goeie naam. Dra hulle as hulle die slag struikel of val. Wees van jou kant af ’n vriend duisend.
“Jy stres heeltemal verniet.” Hoeveel keer hoor jy nie sulke uitdrukkings nie. Ongelukkig is dit nie die waarheid nie. Niemand stres ooit verniet nie. Trouens, die prys van stres is buitensporig hoog. Dit maak mense van die binnekant af siek. Dit lei tot angstige, gejaagde harte. Stres is altyd dodelik — letterlik en figuurlik. Dit omvorm gewone mense in bekommerde, gejaagde mense wat geen lewensgeluk meer ken nie. Daarom dat ons Jesus ernstig moet opneem as Hy in die Bergrede sê dat bekommernis nie een enkele uur tot ons lewe kan byvoeg nie. Inteendeel! Ons moet ook by Jesus hoor God sorg vir ons. Regtig! Hy wat vir die mossies kos aandra en die veldblomme in koninklike kleure tooi, hou ons lewens in Sy magtige hand vir tyd en ewigheid. Hy sorg en versorg. Hy gee vir ons meer as wat ons kan bid of dink, soos wat Paulus se gebed vir die Efesiërs ons keer op keer herinner. Laat hierdie goeie nuus vandag en môre ‘n gesonde stres-breker in jou lewe wees. Laat dit hemelse medisyne vir jou aardse stres-pyne wees. Onthou, jy het ‘n Vader wat vir jou sorg! Hoor dit. Glo dit. Beleef dit.
|
Ana & Andre Schoonbee God uses us to motivate and encourage the body. Authors
All
Archives
June 2015
|